Pragtige streek 'is erg ontsier'
20.6.2010 : Article in RAPPORT
Llewellyn Prince in Kaapstad: Pragtige streek is erg ontsier!
Wynboere in Stellenbosch is omgekrap oor reusagtige kweekhuise wat ’n
gesiene en skatryk familie op hul aarbeilanderye opgerig het.
Die klaers meen dié spierwit strukture van die Zetler-familie tussen wingerde langs
die Polkadraaipad ontsier dié wêreldbekende wynlande, wat ná die
Krugerwildtuin en Tafelberg die gewildste toerisme bestemming in
Suid-Afrika is.
Die Stellenbosch-munisipaliteit sê hulle ondersoek die aangeleentheid en
sal hof toe gaan as dit moet. Die Zetlers sê egter die kweekhuise is hoe
hulle “innoverend moet wees om ons besigheid te beskerm”.
Drs. Luca en Ingrid Bein, ’n Switsers gebore egpaar wat reg langs van
die kweekhuise hul private wynkelder, Bein Wines, bedryf, sê hul
onderneming word direk deur die kweekhuise geraak. “Ons bied die mooi
wynlandskap as ’n pakket saam met ons wyne aan kliënte omdat die
wynbedryf in ’n krisis is.
“Ons kon enige plek in die wêreld ’n wynplaas gekoop het, maar nêrens is
dit só mooi nie. Geen wetlike prosesse is vir die kweekhuise en
betonmuur gevolg nie, terwyl ons as bure ook nie vir kommentaar genader
is nie.”
Ingrid Bein sê: “Ons uitsig het verander en die toeriste vra al klaar
vrae. Ons as gemeenskap moet opstaan en iets doen om ons wynlande te
beskerm.”
Me. Sunette Den Dulk van die De Toren-plaas sê sy en haar man, Emil, se
uitsig word nie direk deur die kweekhuise geraak nie. “Die wyne van ons
gebied is egter saam met die skone landskap baie beroemd. Ons het die
plase vir die skoonheid van die gebied gekoop en kweekhuise kan nie in
wynlande geduld word nie.”
Mnr. Duncan Fransz, eienaar van die Jakarta-restaurant, sê die
kweekhuise bederf die hele landskap. “Hulle het nie goedkeuring van die
munisipaliteit gekry nie. Al wat ek nou uit elke venster sien is
kweekhuise.”
Mnr. Julian Zetler sê sy familie boer al die afgelope 100 jaar met
aarbeie in die gebied. “Ons bedryf ’n intensiewe boerdery en die
strukture is tydelik. Die kweekhuise is deel van hoe ons altyd
innoverend moet wees om ons besigheid te beskerm. “Die betrokke
kweekhuise is op peperduur grond en ons kan niks anders daarop doen
nie.”
Oor klagtes dat dit die wynlande ontsier, sê Zetler: “Wat mooi vir ons
is, is dalk nie mooi vir ander nie. “Ons het nie geweet ons moet
toestemming vra vir die kweekhuise op ons grond nie. Ons het met van die
klaers vergader om te sien hoe ons hulle tegemoet kan kom. Ons het
internasionale konsultante wat ons help.”
Volgens hom is hulle nie van ’n oes gewaarborg as hulle nie hul
aarbeilande toemaak nie. “Ons verskaf werk aan sowat 400 seisoenale
werkers. “Dit is nie maklik nie, maar die kweekhuise verleng ons
besigheid en werk vir ons mense.”
Mnr. Vernon Bowers, woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, sê
verskeie klagtes van plaaseienaars is al oor die kweekhuise
ontvang.Volgens hom samel die munisipaliteit tans meer bewyse in en sal
’n kennisgewing binnekort op die eiendomseienaars beteken word. “Hulle
sal óf vir die kweekhuise moet aansoek doen by die raad óf dit afbreek.”
Volgens Bowers sal die aansoeke vir kommentaar gepubliseer word en as
die kennisgewings geïgnoreer word, kan die howe genader word.
Read here the
original article in Rapport at www.rapport.co.za
or download it here as
hardcopy of the
article (pdf / 8 Kb)
